Besonderse Galakonsert wag by Klassique

“Vanjaar se Klein Karoo Klassique Galakonsert is ’n pragtige en unieke program, wat ’n paar verrassings insluit en beslis nie misgeloop kan word nie.”
Facebook
Twitter
LinkedIn

“Vanjaar se Klein Karoo Klassique Galakonsert is ’n pragtige en unieke program, wat ’n paar verrassings insluit en beslis nie misgeloop kan word nie.”

Dit is die woorde van bekende musikant en dirigent Richard Cock. Hy het die program saamgestel vir die Klein Karoo Klassique Galakonsert, wat Saterdag 10 Augustus om 19:00 op Oudtshoorn aangebied word. Saam met hom op die verhoog is die uitstaande violis Samson Diamond en die Kaapstad Feeskamerorkes,wat spesiaal vir Klein Karoo Klassique byeengebring is.

“Ek hou daarvan om konserte pret en toeganklik te maak en klassieke musiekliefhebbers moet beslis nie hierdie optrede misloop nie. Diamond is ’n wonderlike violis en speel Mozart se pragtige ‘Viool Concerto No. 4’. Ons bring hulde aan Gershwin, wat ‘Rhapsody in Blue’ 100 jaar gelede gekomponeer het. Beethoven word ook gehuldig, ter viering van ‘Simfonie No. 9’ wat hy 200 gelede gekomponeer het”, sê Cock.

Die eerste helfte van die program is meer ernstig van aard, gevolg deur ’n tweede helfte wat onder andere musiek deur Gershwin, Brahms, Kreisler, Vaughan Williams en die bekende “Gold and Silver Waltz” van Lehár insluit.

“Gershwin se werk was werklik die eerste jazz-concerto en Beethoven se ‘Ode to Joy’ het vir die eerste keer ’n groot koor as deel van ’n optrede gebruik. Sy ‘Negende Simfonie’ is ’n revolusionêre werk, met geen gelyke in die repertorium nie – en ons voer ’n gedeelte daarvan op, wat regtig opwindend is. Daar is hope op die program om na uit te sien”, sê hy.

Gevierde musici is spesiaal deur Cock en Stuart Scott byeengebring vir die Kaapstad Feeskamerorkes, wat gereeld in en om Kaapstad optree. Die orkes en verskeie orkeslede is vir die eerste keer by Klein Karoo Klassique te sien. Cock sê hy is baie opgewonde om terug te keer na Oudtshoorn, aangesien sy laaste optrede in die Klein Karoo meer as 25 jaar gelede by die KKNK was.

“Daar is baie jong spelers in die orkes wat die gehoor gaan verstom met hulle entoesiasme en hulle liefde vir die uitvoer van musiek”, sluit Cock af.

Diamond het vantevore by Klein Karoo Klassique opgetree, waar hy die verhoog met die Odeion Strykkwartet – ook vanjaar by die fees op die verhoog – gedeel het. “Ek sien daarna uit om nog ’n keer pragtige musiek met die gehore by Klein Karoo Klassique te deel, onder leiding van Maestro Richard Cock. Klassique bring altyd ’n wonderlike groep musiek-entoesiaste byeen en ek is opgewonde om Mozart se ‘Viool Concerto’ saam met ander pragtige kort stukke vir viool en orkes uit te voer. Ek sien egter die meeste daarna uit om ’n betekenisvolle verbintenis met die gehoor te deel.”

“Die Klein Karoo Klassique Galakonsert sluit iets vir almal in om te geniet. Maestro Cock is fantasties met gehore en ek geniet dit om saam met hom te werk. Dit gaan vir klassieke musiek-entoesiaste ’n kulturele ervaring wees, wat verder strek as net die musiek. Hierdie konsert gaan hulle in staat stel om hulself te verdiep in die ryk erfenis en artistieke uitdrukking van klassieke musiek, in ’n unieke feesomgewing wat in die skilderagtige dorpie Oudtshoorn aangebied word”, sê Diamond.

Klein Karoo Klassique vind van Vrydag 9 tot Sondag 11 Augustus 2024 op Oudtshoorn plaas. Die feesprogram sluit ’n verskeidenheid van klassieke musiek, kuns, kos en wyn in.

Die kern van die fees is die Oudtshoorn Burgersentrum en Banketsaal, waar feesgangers en kunstenaars gesellig kan kuier. Heerlike eetgoed word deur Nostalgie Restaurant hier bedien, terwyl wyn, koffie en ander lekkernye ook beskikbaar is. Boeke, klassieke musiek CD’s en DVD’s is hier te koop. 

Hierdie winterfees word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude en die Oudtshoorn Munisipaliteit.  

Klassique se verblyfborge is Aloe Manor, De Zeekoe, Kleinplaas Holiday Resort, Protea Hotel Riempie Estate, Queen’s Hotel by BON Hotels, Ravenscliff Manor, Rosenhof Country House en Turnberry Boutique Hotel. Ander verblyfopsies is aanlyn beskikbaar by die fees se verblyfvennoot, LekkeSlaap. 

’n Beperkte aantal Klassique-pakkette is beskikbaar, wat aan feesgangers die geleentheid bied om al tien uitvoerings teen ’n besparing van 25% te sien. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets, Pick n Pay of die KKNK-kantoor. Beskikbare kaartjies word ook voor uitvoerings by die deur verkoop. Vir meer inligting, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.

Klik hier om jou kaartjies aanlyn by Webtickets te koop.