Feesgangers kan uitsien na ’n bekoring van die sintuie met meer as klassieke musiek by die 14de Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn.
Vanjaar se feesprogram, aangebied in die Klein Karoo van Donderdag 3 tot Sondag 6 Augustus, vervleg ’n reeks ervarings met musiek deur van Suid-Afrika se voorste klassieke musici, wat nie net geleenthede bied om die kunstenaars te leer ken nie, maar ook boekgesprekke, kunsuitstallings, ’n historiese wandeltoer en heerlike kos- en wynervarings insluit.
Klassique word in die middel van Oudtshoorn aangebied, met meeste feestelikhede wat in die Burgersentrum en bo in die Banketsaal plaasvind. Ses musiekuitvoerings word gevolg deur gesprekke met kunstenaars, waaraan feesgangers kan deelneem en wat heelwat stof tot nadenke bied, wanneer kunstenaars insig oor die nuanses van die musiek deel.
Die eerste drie musiekgesprekke word gelei deur legendariese Suid-Afrikaanse kunstenaar Coenie de Villiers as fasiliteerder. Louisa Theart (fluit) en Nina Schumann (klavier) is eerste aan die beurt na afloop van hulle uitvoering Aquila Duo: Echoes of Arcadia (Vrydag 4 Aug. 10:30). Vrydagmiddag is Theart saam met Dylan Tabisher (marimba & vibrafoon) op die verhoog in Mizar Duo (14:00) gevolg deur ’n gesprek. Saterdag na afloop van Harmony of Serenity: Arvo Pärt’s Musical Meditations (5 Aug. 10:30) gesels pianis Megan-Geoffrey Prins, tjellis Peter Martens en violis Suzanne Martens oor die musiek.
Saterdagmiddag neem die immergewilde Lynelle Kenned oor as fasiliteerder. Na afloop van Sublime Sextets (5 Aug. 14:00) sluit Suzanne Martens (viool), Matthew Stead (viool), Petrus Coetzee (altviool), Jana Smit (altviool), Peter Martens (tjello), Rosamund Ender (tjello), Fèroll-Jon Davids (klarinet), Shannon Thebus (Franse horing) & Schumann (klavier) by haar aan om oor hulle musiek te gesels. Die twee uitvoerings op Sondag 6 Augustus word beide gevolg deur ’n musiekgesprek. Dit sluit in Take Four Piano Quartet (10:30) met Zanta Hofmeyr (viool), Susan Mouton (tjello), Elna van der Merwe (klavier) en Jeanne-Louise Moolman (altviool) en die laaste musiekgesprek van die fees na afloop van Handel’s Roman Cantatas (14:00) met Kenned (sopraan), Hlengiwe Mkhwanazi (sopraan), Ralitza Macheva (barokviool), Rosamund Ender (baroktjello & viola da gamba), Dale de Windt (kamerorrel) en Erik Dippenaar (klavesimbel & musikale leier).
Daar is drie geleenthede om oor literatuur met skrywers te gesels, moontlik gemaak deur NB Uitgewers. Gevierde skrywer Tom Dreyer praat oor sy debuutbundel Nou in infrarooi (4 Aug. 12:30), Wisani Mushwana deel insig oor sy eerste roman A Soft Landing (5 Aug. 12:30) en Nicole Jaekel Strauss sluit die program af met ’n oorsig van haar roman, Deelfontein. Boekjoernalis Elna van der Merwe is die fasiliteerder. Hierdie en ander boeke is ook te koop by die Boekeparadys, waar feesgangers kan kies uit ’n reeks boeke en aandenkings, met verskeie winskope.
Visuele kunstenaars uit die Klein Karoo stal hulle werke uit as deel van die fees se saamgestelde visuele kunsuitstalling getiteld Earth has Music for those who Listen. Plaaslike kunstenaar Janet Dixon is die kurator van dié viering van die komplekse verhouding tussen natuur en musiek, vanuit ’n Klein Karoo-perspektief. Kunswerke van gevestigde en opkomende kunstenaars uit die Klein Karoo word uitgestal, waaronder Liza Grobler, Hermann Niebuhr, François Tiran, Ina Marx, Lisl Barry en ander. Alle kunswerke wat in die Banketsaal uitgestal word is te koop en feesgangers kan Vrydag- en Saterdagmiddag om 16:00 by Dixon aansluit vir ’n rondleiding.
Thorny Creek Brewery, ’n plaaslike boetiekbierbrouery, bied daagliks om 12:30 ’n Craft Beer & Cheese Pairing aan, waar produkte van dié brouery in die hartjie van die Klein Karoo saam met ’n unieke kaas-pasmaat geproe kan word. Hulle bied ook ’n inleiding tot Brewer’s Spent Grain aan, as ’n funksionele bestanddeel in kookkuns, ’n fassinerende samewerking tussen brouery en volhoubaarheid.
’n Feeservaring is nie voltooi sonder heerlike eetgoed nie en Klassique se feesrestaurant, bedryf deur Nostalgie, bied daagliks heerlike ontbyt, middagete en aandete aan. Verskeie wyne en plaaslik geroosterde koffie is ook beskikbaar.
Vanjaar word daar vir die eerste keer tydens Klassique Historiese wandeltoere deur Roydin Engelbrecht van RJ Tours aangebied. Hierdie gemaklike staptoer besoek belangrike argitektoniese geboue op Oudtshoorn. Een hiervan is die N.G. Moederkerk, waar bouwerk in 1860 begin het en in 1879 voltooi is.
Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met addisionele ondersteuning van Le Lude, Rosenhof Country House en die Oudtshoorn-munisipaliteit. Die fees se verblyfborge is Hlangana Lodge, Kleinplaas Holiday Resort, Protea Hotel Riempie Estate, Queen’s Hotel by Bon Hotels, Ravenscliff Manor, Turnberry Boutique Hotel en Wildehondekloof Game Reserve.
Die volledige feesprogram is beskikbaar by klassique.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets, Pick n Pay, of die KKNK-kantoor. Kaartjies word ook voor elke optrede by die deur verkoop, onderhewig aan beskikbaarheid. ’n Eksklusiewe Klassique-pakket bied toegang tot nege uitvoerings teen ’n totale besparing van 30%. Klassique-pakkethouers kry ook 30% afslag op hul feesverblyf in die Queen’s Hotel, onderhewig aan beskikbaarheid. Vir ander verblyfopsies in en om Oudtshoorn kan feesgangers ook Klassique se verblyfvennoot LekkeSlaap besoek.