Gratis vermaak vir jonk en oud by Klassique

Klein Karoo Klassique bied vanjaar nie net wêreldklas klassieke musiek aan feesgangers nie, maar ook hope gratis vermaak vir jonk en oud.
Facebook
Twitter
LinkedIn

Klein Karoo Klassique bied vanjaar nie net wêreldklas klassieke musiek aan feesgangers nie, maar ook hope gratis vermaak vir jonk en oud.

Dié fees van klassieke musiek, kuns, boeke, kos en wyn word van Vrydag 8 tot Sondag 10 Augustus vir die 16de keer op Oudtshoorn aangebied.

Van ’n konsertreeks vir jong kinders, insiggewende musiekgesprekke vir kenners en ontbytkonserte om die dag in die regte luim te begin, tot literêre gesprekke met skrywers, ’n visuele kunsuitstalling, ’n kunsrondleiding en geleenthede om saam ’n verskil in die gemeenskap te maak – daar is iets vir elkeen om te geniet as deel van dié gratis aanbod.

Die Little Maestros-konsertreeks is terug en dié keer staan die harp sentraal. Jana van der Walt (harp) en Magdalene Minnaar (viool & aanbieder) is Vrydag 8 en Saterdag 9 Augustus 12:30 op die verhoog in die Banketsaal vir ‘’n spesiaal ontwerpte konserte vir die jongste luisteraars, in ’n ontspanne omgewing waar hulle die musiek van Mozart, Bach en ander geliefde komponiste kan verken. Hierdie interaktiewe uitvoerings is saamgestel met kinders in gedagte en sluit interaksie en verduidelikings, asook deelname en beweging saam met die musiek in. Klassieke musiek is ’n sterk ontwikkelingshulpmiddel vir jong kinders, aangesien dit breinontwikkeling ondersteun en konsentrasie bevorder. Die konserte word in ’n piekniek-styl aangebied en die hele familie is welkom.

Ons gasheer vir Klein Karoo Klassique, Steinway-kunstenaar Charl du Plessis, tree na uitgesoekte uitvoerings in gesprek met kunstenaars en bied ’n gratis blik agter die musiek wat op die verhoog te sien was. Sluit aan by hierdie intieme musiekgesprekke bo in die Banketsaal met van Suid-Afrika se voorste klassieke musici – ’n unieke geleentheid om meer te ontdek oor die kunstenaars, die musiek en die komponiste wat hulle inspireer.

Charl du Plessis tree in gesprek met kunstenaars na afloop van uitgesoekte musiekuitvoerings. © Hans van der Veen

Elke feesdag begin met ’n Ontbytkonsert – waar klassieke musiek en ’n heerlike ontbytspyskaart byeenkom. Hierdie gratis konserte word soggens vanaf 08:00 aangebied en bied die perfekte kombinasie van inspirerende musiek en ’n ontspanne atmosfeer. Of jy nou ’n liefhebber van klassieke musiek is of net jou dag rustig wil begin, daar is iets op die ontbytspyskaart (én in die program) vir elke smaak. Op dié program is Oudtshoorn-pianis Marlene Vlok (Vrydag 8 Augustus 08:00), pianis Megan-Geoffrey Prins (Saterdag 9 Augustus 08:00) en die Charl du Plessis Trio (Sondag 10 Augustus 08:00). Toegang tot die musiek is gratis.

Drie boekgesprekke, moontlik gemaak deur NB Uitgewers, word in die Banketsaal aangebied. Hier kan gehore insig oor skrywers se nuutste werk, hul skryfprosesse en die stories agter die stories kry. Elke gesprek is ’n unieke geleentheid om op ’n intieme en ontspanne wyse met die wêreld van literatuur in gesprek te tree. PJO Jonker gesels Vrydag 8 Augustus 16:00 met Marliza van den Berg oor sy boek, Die Onsigbare. Saterdag 9 Augustus 10:45 tree Juliette Mnqeta in gesprek met Elna van der Merwe oor haar boek, If The Dead Could Talk. Vir die laaste boekgesprek (10 Augustus 11:00), gesels die Hertzog-pryswenner Willem Anker met Van der Merwe oor sy novelle, Patmos, gegrond op Anker se gelyknamige toneelstuk, wat in 2024 by die KKNK gedebuteer het en met ’n spesiale Kanna-prys bekroon is.

Drie boekgesprekke word aangebied tydens Klassique.

René Scribante is die kurator van die fees se visuele kunsuitstalling in die Banketsaal, onder die tema Sacred Pulse. Werke van beide gevestigde en opkomende kunstenaars uit die Klein Karoo en die breër Suid-Kaap word uitgestal en verken die ritme, frekwensie en vloei waar visuele kunste en musiek ineenloop. Die uitstalling nooi die kyker uit na ’n sintuiglike dialoog waarin klank beeld word en beweging vorm aanneem. Teen die uitlokkende agtergrond van die Klein Karoo-landskap stel die uitstalling ’n dinamiese, lewende verbintenis tussen kulturele uitdrukking en natuurlike skoonheid voor. Scribante bied Vrydag 8 Augustus 17:00 ’n visuele kunsrondleiding van die werke in die Banketsaal aan.

Die Oudtshoorn ReWOLusie, ’n gemeenskapsprojek wat ’n groot impak in die omgewing maak, werskaf daagliks in die Banketsaal. Feesgangers word uitgenooi om saam met dié span te brei en te hekel. Elke blokkie wat tydens die fees hier gebrei of gehekel word, vorm deel van ’n groter projek om komberse vir minderbevoorregte gemeenskappe te maak en te skenk. Hierdie handgemaakte komberse word nie net ná die tyd saamgestel nie – sommige is reeds beskikbaar om feesgangers tydens uitvoerings in die Burgersentrum warm te hou. Steun hierdie plaaslike inisiatief deur ’n donasie te maak in ruil vir ’n kombers of koffietafelboek oor die Oudtshoorn ReWOLusie, of skenk ’n bol wol en help ons om die draad van omgee voort te spin.

Sluit aan by die Oudtshoorn ReWOLusie en maak ’n verskil in die gemeenskap. © Hans van der Veen

Al hierdie gratis vermaak word addisioneel tot nege musiekuitvoerings deur van Suid-Afrika se voorste klassieke musici aangebied. ’n Beperkte aantal Klassique-pakkette is beskikbaar, wat aan feesgangers die geleentheid bied om al nege uitvoerings teen ’n besparing van meer as 20% te sien. Kaartjies is aanlyn beskikbaar, of by die KKNK-kantoor. Beskikbare kaartjies word ook voor uitvoerings by die deur verkoop.

Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude en die Oudtshoorn Munisipaliteit.  

Dié winterfees se verblyfborge is Aloe Manor, Argyll B&B, Bakenskraal Ostrich Palace, Beit Shalom Guesthouse, Hlangana Lodge, Kleinplaas Holiday Resort, Mooiplaas Guest House, Queen’s Hotel, Ravenscliff Manor en Rosenhof Country House.

Vir meer inligting, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.