Twee wenners van 2023 Fleur du Cap-pryse, ’n Judith Neilson Jong Kunstenaar, veelbekroonde musici in beide internasionale en plaaslike kompetisies en ’n energieke operaprogram noukeurig saamgestel.
Dít is wat die gehoor by die ATKV-Galakonsert met Kaapstad Opera op Saterdag 5 Augustus tydens die 14de Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn kan verwag.
Vier Kaapstad Opera-soliste sorg vir ’n onvergeetlike hoogtepunt by dié klassieke musiekfees. Soprane Brittany Smith en Alida Scheepers deel die verhoog met tenoor Lukhanyo Moyake en bariton Conroy Scott, begelei deur José Dias op klavier.
Smith en Scott is in 2023 bekroon met die Fleur du Cap-pryse vir beste vroulike en manlike optredes in ’n opera, vir hul vertolkings in Kaapstad Opera se Le Nozze di Figaro. Vir Smith was dié prys onverwags. “Dit het eers omtrent ’n week en ’n half later vir my ’n realiteit geword. Die Fleur du Cap is erkenning vir my harde werk en streng werksetiek. Dit is die eerste tree na hopelik nog vele teaterpryse.”
Vir Scott is dié prys bevestiging van die loopbaan wat hy as musikant en veral operasanger gekies het. “Die ontvang van hierdie prys versterk my begeerte om beter te doen. Dit is een van my hoogtepunte as operasanger, as musikant en hopelik lei dit tot nóg groter geleenthede, beide vir my as individu, maar ook vir die operageselskap in geheel,” sê Scott.
Scott was in 2021 by Klassique in die opera La Bohème te sien en sê hy sien daarna uit om vir die ATKV-Galakonsert voor ’n Klein Karoo-gehoor op te tree sonder enige Covid-19-beperkings. “Ek sien veral daarna uit om weer die reaksie van gehore op hulle gesigte te sien. Om daardie konneksie met die gehoor te hê is iets wat ons werklik tydens Covid-19 en al die beperkings gemis het.”
Moyake was saam met Scott op die verhoog in La Bohème en is opgewonde om voor ’n groot gehoor in Oudtshoorn op te tree. “Feesgangers gaan bekoor word deur die goeie musiek, van opera tot musiekblyspele en opwindende duette.”
Magdalene Minnaar, artistieke direkteur van Kaapstad Opera, sê hulle het spesiaal vir Klein Karoo Klassique hoogtepunte uit opera-arias en musiekblyspele van twee groter programme wat hulle vanjaar aanbied, bymekaargesit. “Dit bied vir operakenners iets nuuts wat hulle moontlik nog nie gehoor het nie, maar ook ou bekende en wonderlike operatreffers vir diegene wat nuwer tot opera is. José Dias het die program saamgestel en is ’n ongelooflike musikale regisseur. Die program is energiek, treffend en daar is nie ’n dooie oomblik nie.”
Sy sê feesgangers kan nie die ATKV-Galakonsert misloop nie. “Dit is elke jaar ’n showstopper. Net om hierdie fenomenale soliste te hoor is ’n eer. Conroy en Lukhanyo is terug in Suid-Afrika na groot internasionale loopbane en dit is wonderlik om kunstenaars van hierdie kaliber op ons drumpel te hê. Die sang is van ongelooflike hoë gehalte.”
Minnaar is welbekend onder Klassique se gehore en was verskeie kere self by dié fees op die verhoog. “Klein Karoo Klassique is een van die belangrikste klassieke feeste in die land en ek wens daar was meer soortgelyke feeste. Oor die afgelope paar jaar was dit elke keer vir my ’n groot eer om hier op te tree, omdat dit amper soos ’n boetiekfees is met keurige keuses van kunstenaars. Dis ’n fantastiese plek vir gehore – dis meer intiem en daar is baie lekker restaurante. Elke keer is ’n absolute fantastiese ervaring,” sluit sy af.
Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, wat reeds sedert 2010 by Klein Karoo Klassique betrokke is, sê die ATKV heg groot waarde aan strategiese vennootskappe wat tot klassieke musiek en musici se voordeel dink, belê, werk en droom. “Dit is die ATKV se missie om proaktief en op ’n volhoubare wyse om te sien na die diverse kunsbehoeftes van die Suid-Afrikaanse gemeenskap en Klein Karoo Klassique bied die ideale platform hiervoor. Die hoofdoel van dié vennootskap is om klassieke musiek en die uitvoerende kunste in Suid-Afrika te ondersteun. Klassique is ’n uitstekende geleentheid waar die ATKV en strategiese vennote klassieke musiek op ’n trots Suid-Afrikaanse manier kan vier.”
Volgens hom is daar ’n diep behoefte by meeste Suid-Afrikaners vir geleenthede soos Klassique, wat die siel aanraak en mense se lewens kan verander. “Ek kan nie dink aan ’n beter plek as die Klein Karoo om jou siel te voed nie.” Vir hom is die hoogtepunte op vanjaar se program ongetwyfeld ’n Karoonag met die Suid-Kaap Kinderkoor en vriende, omdat jongmense en koorsang hom baie na aan die hart lê. “Die ATKV-Galakonsert met Kaapstad Opera gaan ook ’n besondere ervaring wees,” sluit hy af.
Scheepers, die 2023 Jong Kunstenaar van Kaapstad Opera se Judith Neilson-program, het gehore verlede jaar by Klassique bekoor en stem met Lemmer saam dat vanjaar se ATKV-Galakonsert beslis ’n hoogtepunt gaan wees. “Dié konsert is alles wat gehore van ’n Galakonsert verwag en ’n samevatting van die gees van die fees.”
Vir haar is Klassique baie spesiaal, omdat dit in ’n Afrikaanse omgewing aangebied word en Afrikaans haar na aan die hart lê. “Dit maak die fees baie uniek en laat my as Afrikaanse kunstenaar ook baie tuis voel om in Afrikaans met gehore te kan gesels en fees te vier. Afrikaanse kunstenaars en gaskunstenaars wat nie noodwendig Afrikaans is nie, kan almal die mooi van Afrikaans hier geniet.”
Oor die Judith Neilson-program sê sy: “Ek leer ongelooflik baie en die program bied baie praktiese, professionele ervaring. Jy leer ’n rol, tree op as ’n rol en gaan deur die hele proses van die uitvoering van die rol: die teaterkuns, die verhoogkuns en die kostuums. Dit is iets wat jy nie op universiteit leer nie. Verder stel die program kunstenaars bloot aan die publiek en bied ’n geleentheid om saam met van die beste musikante in die land te werk.”
Scheepers en Smith deel ook op Vrydag 4 Augustus om 19:00 die verhoog met die Suid-Kaap Kinderkoor en Coenie de Villiers in ’n Karoonag met die Suid-Kaap Kinderkoor en vriende. Hulle sing onderskeidelik Le Roux Marais se “Heimwee” en Mozart se “Laudate Dominum” saam met die koor.
Klein Karoo Klassique word van Donderdag 3 tot Sondag 6 Augustus deur die KKNK op Oudtshoorn aangebied, ondersteun deur die Rupert-Musiekstigting en ATKV.
Kaartjies is beskikbaar by Webtickets, Pick n Pay, of die KKNK-kantoor. Kaartjies word ook voor elke optrede by die deur verkoop, onderhewig aan beskikbaarheid. ’n Eksklusiewe Klassique-pakket bied toegang tot nege uitvoerings teen ’n totale besparing van 30%. Klassique-pakkethouers kry ook 30% afslag op hul feesverblyf in die Queen’s Hotel, onderhewig aan beskikbaarheid. Vir ander verblyfopsies in en om Oudtshoorn kan feesgangers ook Klassique se verblyfvennoot LekkeSlaap besoek.
Foto’s aangeheg
Tenoor Lukhanyo Moyake en sopraan Alida Scheepers van Kaapstad Opera is tydens vanjaar se Klein Karoo Klassique in die ATKV-Galakonsert te sien.