Só sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van dié fees wat tot Sondag 6 Augustus op Oudtshoorn aangebied is. Volgens Theart was ’n kenmerk van die fees groter gehore en hoër kaartjieverkope as verlede jaar.
“Dit is wonderlik om te sien dat die fees se getalle groei en dat daar ’n groot belangstelling in klassieke musiek is. Die atmosfeer wat geskep word met bykomende kos, wyn en kuiergeleenthede, dra ook by tot ’n heerlike ervaring vir feesgangers. Die Boekstories en gesprekke met die kunstenaars is ’n aspek wat feesgangers ook terdeë geniet en waardeer het. Terugvoer van kunstenaars is positief en dit is vir hulle net so waardevol om gehore beter te leer ken en met hulle oor hul werk en uitvoerings te gesels.”
Theart sê verder dat hulle reeds uitsien na volgende jaar se Klein Karoo Klassique. “In 2024 bied ons Klassique vir die 15de keer aan, oor die Vrouedag-langnaweek van Vrydag 9 tot Sondag 11 Augustus 2024. Teken dit solank in jou dagboek aan of merk jou kalender. Ons het reeds begin beplan en glo dat dié mylpaalfees hierdie winterfees na nog hoër hoogtes sal neem.”
Coenie de Villiers was tydens Klassique saam met die Suid-Kaap Kinderkoor, onder leiding van Jan-Erik Swart, en Kaapstad-opera soprane Brittany Smith en Alida Scheepers op die verhoog tydens ’n Karoonag, een van dié fees se hoogtepunte. De Villiers het ook Vrydag en Saterdagoggend tussen uitvoerings met kunstenaars oor hul werk gesels, wat ’n bykomende hoogtepunt vir vele feesgangers was.
“Daar is net één plek waar aanhangers van klassieke musiek die heel beste kunstenaars kan hoor, ’n uiteenlopende repertorium kan geniet en dit alles onder die helder hemel van die Klein Karoo. Ek praat natuurlik van die pas-afgelope Klein Karoo Klassique, wat hierdie jaar weer volstoom aan die gang was en gesorg het vir uithaler-vermaak. Dis die één plek waar jy ’n hond-uit-’n-bos kan kuier met vriende in een van die talle uithaler-restaurante van die omgewing, tussendeur ’n bietjie Bach en boekbesprekings byroer, ’n knypie beeldende kuns geniet – dis nou benewens die skeut jazz wat hier teen die einde bygeroer word. Moet dit nie volgende keer misloop nie”, meen De Villiers. Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met addisionele ondersteuning van Le Lude, Rosenhof Country House, NB Uitgewers, die Oudtshoorn-munisipaliteit, Hyundai Oudtshoorn en Herotel Oudtshoorn. Die fees se verblyfborge is Hlangana Lodge, Kleinplaas Holiday Resort, Protea Hotel Riempie Estate, Queen’s Hotel by Bon Hotels, Ravenscliff Manor, Turnberry Boutique Hotel en Wildehondekloof Game Reserve.