Klein Karoo Klassique bied diverse program

’n Diverse feesprogram wag op klassieke musiekliefhebbers by vanjaar se Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn.
Facebook
Twitter
LinkedIn

’n Diverse feesprogram wag op klassieke musiekliefhebbers by vanjaar se Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn.

Dié fees van klassieke musiek, kuns, boeke, kos en wyn word van Vrydag 8 tot Sondag 10 Augustus vir die 16de keer in die Klein Karoo aangebied.

Maestro Richard Cock en die Kaapstadse Feesorkes is terug vir die Klein Karoo Klassique Galakonsert (9 Augustus 19:30), saam met die immergewilde Charl du Plessis Trio en opkomende operaster Nonhlanhla Yende. Die program bevat die Maanligsonate van Beethoven in ’n splinternuwe verwerking vir orkes, asook opera-arias deur Mozart en musiek van Vivaldi en Bach. Yende is een van ’n nuwe generasie briljante sangers wat tans opslae in die Suid-Afrikaanse musieklandskap maak. Sy sing van die gewildste arias uit die operarepertorium om dié onvergeetlike konsert af te sluit. 

Voces Cordis, onder leiding van die bekroonde koorleier André van der Merwe, tree vir die eerste keer by Klassique op (10 Augustus 12:30), met gewyde koorwerke deur komponiste soos Andrey Makor en Jacob Handl, kontemporêre werke deur Laura Jēkabsone en Jacob Collier, ’n Letlandse volkslied, en Mia Makaroff se Didn’t My Lord Deliver Daniel. Die koor deel ook hul eie vertolking van die geliefde Afrikaanse “Voshaarnooi”.

Zorada Temmingh is vir die eerste keer sedert 2009 by Klassique, vir Zorada se katedraal en kaperjol (9 Augustus 16:30). Sy word beskou as een van Suid-Afrika se voorste orrel-improvisators en speel werke van gewilde orrelkomponiste, waaronder Johann Pachelbel en Léon Boëllmann, asook van haar eie komposisies en improvisasies op kerkliedere.

Vrydagaand (8 Augustus 19:30) wag ’n onvergeetlike klavier-ekstravaganza in Klavierkoors. Nina Schumann, Megan-Geoffrey Prins, José Dias en Charl du Plessis deel die verhoog met werke vir vier, ses en agt hande, waaronder musiek van Rachmaninoff, Schubert, en selfs verrassende klanke van John Lennon – ’n simbiose van klassieke tradisie en moderne klank.

Daar is drie trios op die program. In Trio du Cap Classique (8 Augustus 10:00) speel Liesl Stoltz (fluit), Rosamund Roth (tjello) en José Dias (klavier) musiek van Mozart, Eugene Goossens en Louise Farrenc. Trio AéroClave (9 Augustus 13:30) met Louisa Theart (fluit), Férrol-Jon Davids (klarinet) en Nina Schumann (klavier) bied ’n program met musiek van Bach, Brahms, Villa-Lobos, Saint-Saëns, John Rutter, Hendrik Hofmeyr en Guillaume Connesson. In Journey of the Soul (10 Augustus 09:30) voer Féroll-Jon Davids (klarinet), Rosamund Roth (tjello) en Megan-Geoffrey Prins (klavier) ’n program met musiek van Schumann, Muczynski en Brahms.

Vir Alive String Quartet in Concert (8 Augustus 14:00), verweef Petrus de Beer (viool), Renée van der Westhuizen (viool), Emile de Roubaix (altviool) en Anjulie de Vos-Nock (tjello) klassieke en kontemporêre musiek met boeiende storievertelling en fassinerende gesprekke. Geliefde klassieke werke deur komponiste soos Vivaldi, Haydn, Beethoven en Piazzolla word ingesluit, saam met moderne treffers met ’n klassieke aanslag deur The Beatles, Coldplay en meer.

Die elegante skoonheid en ritmiese briljantheid van minimalistiese musiek word uitgevoer in Glass House (9 Augustus 09:30), met werke van ikoniese komponiste soos Philip Glass, Steve Reich, Arvo Pärt, Max Richter en Michael Nyman. Aangebied deur ’n dinamiese kwintet van Suid-Afrikaanse virtuose, Charl du Plessis (klavier), Petrus de Beer (viool), Renée van der Westhuizen (viool), Emile de Roubaix (altviool) en Anjulie de Vos-Nock (tjello), vir ’n reis deur dekades van minimalistiese innovasie.

’n Beperkte aantal Klassique-pakkette is beskikbaar, wat aan feesgangers die geleentheid bied om al nege uitvoerings teen ’n besparing van meer as 20% te sien. Kaartjies is aanlyn beskikbaar, of by enige Checkers, Shoprite , Usave of die KKNK-kantoor. Beskikbare kaartjies word ook voor uitvoerings by die deur verkoop.

Little Maestros se konsertreeks is terug (8 en 9 Augustus 12:30) en dié keer leer ken jong gehore die harp, met Jana van der Walt en Magdalene Minnaar (viool en aanbieder). Hierdie konsert, spesiaal ontwerp vir die jongste luisteraars, bied ’n ontspanne omgewing waar klein oortjies die musiek van Mozart, Bach en ander geliefde klassieke komponiste kan verken.

Elke feesdag begin met ’n Ontbytkonsert om 08:00, waar klassieke musiek en ’n heerlike ontbytspyskaart byeenkom. Hierdie gratis konserte word soggens in die Banketsaal aangebied.

Musiekgesprekke word na afloop van uitgesoekte uitvoerings aangebied, onder leiding van gasheer Charl du Plessis. Drie Boekgesprekke word aangebied, moontlik gemaak deur NB Uitgewers. PJO Jonker gesels oor Die Onsigbare (8 Augustus 16:00), Juliette Mnqeta oor If The Dead Could Talk (9 Augustus 10:45) en Willem Anker oor Patmos (10 Augustus 11:00).

René Scribante het ’n visuele kunsuitstalling saamgestel onder die tema Sacred Pulse, wat die kyker uitnooi na ’n sintuiglike dialoog waarin klank beeld word en beweging vorm aanneem. Werke van beide gevestigde en opkomende kunstenaars uit die Klein Karoo en die breër Suid-Kaap word uitgestal. ’n Rondleiding van dié kunswerke word 8 Augustus 17:00 in die Banketsaal aangebied.

Die Oudtshoorn ReWOLusie nooi alle belangstellendes uit om saam te brei en hekel en so ’n verskil in die gemeenskap te maak. Oudtshoorn se eie koffiemeester Johan Breunissen bied 9 Augustus 08:00 met Afrika-koffie vs. Afrika-droëwors ’n ontdekkingsreis van koffie in Afrika aan. RJ Tours bied elke oggend om 08:00 ’n Historiese wandeltoer aan en De Rustica Olive Estate bied verskeie geleenthede aan feesgangers om hulle bekroonde olyfolie te proe met Olyf tot olyfolie.

Die Klassique-feesrestaurant bedien daagliks ontbyt, middag- en aandete, met ander lekkernye wat tussendeur beskikbaar is. Heerlike wyne word ook hier bedien.

Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude en die Oudtshoorn Munisipaliteit.  

Dié winterfees se verblyfborge is Aloe Manor, Bakenskraal Ostrich Palace, Beit Shalom Guesthouse, Hlangana Lodge, Kleinplaas Holiday Resort, Mooiplaas Guest House, Queen’s Hotel, Ravenscliff Manor en Rosenhof Country House.

Vir meer inligting, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.