’n Onvergeetlike musikale reis wag op musiekliefhebbers by die 15de Klein Karoo Klassique op Oudtshoorn.
In Lig op die horison span die bekroonde Suid-Kaap Kinderkoor, onder leiding van Jan-Erik Swart, vir die eerste keer kragte saam met die gewilde Joshua na die Reën (JNDR) vir ’n unieke ervaring op Sondag 11 Augustus 13:00.
Hy sê verder kore lê hom ook na aan die hart. “Ek het redelik baie optredes in ’n jaar saam met kore. Dit is my eerste optrede saam met die Suid-Kaap Kinderkoor en ek sien baie uit daarna.”
Oor Lig op die horison by Klein Karoo Klassique sê hy: “As mens musiek uit die hart maak en daar word soveel moeite daarin gesit om iets te maak wat mense meevoer na ’n ander plek toe. Dán dink ek dit is iets waarvan mense deel moet wees. Daarom is dit lekker om mense uit te nooi na dié geleentheid en om saam te kom kuier.”
“Die Klein Karoo is ’n spesiale plek vir my gesin en my familie. Vandat ek ’n klein seuntjie was en ander kunstenaars dopgehou het by die KKNK, is dit ’n plek wat na aan my hart leef. Drome was daarin opgesluit. As ek die kunstenaars gesien het wat daar optree, het ek gedink een dag wil ek ook graag op daardie verhoë wees. Dit is tot ’n mate ’n droom wat aanhoudend bewaarheid word om in die Klein Karoo musiek te kan maak,” sluit hy af.

Jan-Erik Swart, dirigent van die SKKK, sê dit is vir die koor ’n wonderlike geleentheid om saam met JNDR op te tree. “Hy is beslis ’n held onder ons koorlede. Ons bied tydens dié optrede van sy musiek op ’n klassieke wyse in vierstemmige harmonie aan. Die lirieke wat JNDR geskryf het, het die tema vir die optrede geïnspireer en word op wonderlike maniere uitgeleef,” vertel Swart.
Swart het die program saamgestel met die tema, “Die soeke na lig”. Hy sê JNDR se repertorium én die SKKK se program, bevat baie elemente van lig en die soeke daarvan. “Ons sluit ’n paar Spaanse liedere in wat daarop fokus, veral een spesifieke lied wat met bewegings uitgebeeld word terwyl die koor sing. Hierdie lied vra waar is die lig in die nag, met ’n storie daaraan verbonde. Musiek van ’n Spaanse komponis word ook baie mooi saamgevat in pragtige bewegings. Ons leef die tema met die program uit. Verskeie Afrikaanse liedere wat by die tema inskakel, word ook gesing.”
“Verskeie tegnieke word gebruik om die tema van lig uit te beeld en dit is vir ons geweldig opwindend. En om saam met JNDR baie van sy verwerkings vir koor sing, gaan absoluut uniek wees en ons kan nie wag om dit te doen nie. Ons sien geweldig baie daarna uit om saam met hom op te tree,” sluit Swart af.
Klein Karoo Klassique word van Vrydag 9 tot Sondag 11 Augustus deur die KKNK aangebied, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude en die Oudtshoorn Munisipaliteit.
’n Beperkte aantal Klassique-pakkette is beskikbaar, wat aan feesgangers die geleentheid bied om al tien uitvoerings teen ’n besparing van 25% te sien. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets, Pick n Pay of die KKNK-kantoor. Beskikbare kaartjies word ook voor uitvoerings by die deur verkoop.
Vir meer inligting, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.