Spesiale geleenthede vir hele gesin by Klassique

Klein Karoo Klassique bied vanjaar ’n spesiale geleentheid gefokus op gesinne, met Little Maestros: Classical Concerts for Families.
Facebook
Twitter
LinkedIn

Klein Karoo Klassique bied vanjaar ’n spesiale geleentheid gefokus op gesinne, met Little Maestros: Classical Concerts for Families.

“Klassieke musiek is ’n briljante hulpmiddel in die ontwikkeling van kinders onder die ouderdom van sewe, wat breinontwikkeling en konsentrasie bevorder. Ons bied met hierdie konserte ’n ontspanne omgewing waar klein oortjies leer deur Mozart, Bach en ander bekende klassieke musiek”, sê Magdalene Minnaar, bekende sopraan en artistieke direkteur van Kaapstad Opera.

Minnaar is vir Little Maestro’s met die viool op die verhoog te sien. Tjellis Rosamund Ender en pianis Esthea Kruger sluit by haar aan. Minnaar, Ender en Kruger is drie van Suid-Afrika se voorste klassieke musici en hierdie interaktiewe uitvoerings is saamgestel met kinders ingedagte.

“Ons sluit hope interaksie en verduidelikings in, met deelname en beweging saam met die musiek. Little Maestro’s is ’n unieke ervaring wat aan kinders die geleentheid bied om ook deel van ’n klassieke uitvoering te wees, sonder dat ouers bekommerd is dat die kinders heeltyd moet stilsit.”

Volgens Minnaar word Little Maestro’s vir Klein Karoo Klassique die eerste keer op Oudtshoorn aangebied, maar bestaan dié projek alreeds vir ’n dekade. “Little Maestro’s is reeds met groot sukses regoor Suid-Afrika aangebied en sodoende is duisende kinders blootgestel aan klassieke musiek op ’n prettige en interaktiewe manier. Ons is baie opgewonde om dit nou ook na Oudtshoorn te bring,” vertel sy.

Bekende werke soos Vivaldi se “Vier Seisoene” en Mozart se “Eine Kleine Nachmusik” word gehoor. Saam met die viool, tjello en klavier, word ’n altviool en verskeie perkussie-instrumente ook ingespan.

Little Maestro’s word Vrydag (9 Augustus) en Saterdag (11 Augustus) 15:30 en Sondag (11 Augustus) 14:30 in die Banketsaal by Klein Karoo Klassique aangebied. Bywoning is gratis. Heerlike eetgoed word deur Nostalgie Restaurant hier bedien, terwyl wyn, koffie en ander lekkernye ook beskikbaar is. Boeke, klassieke musiek CD’s en DVD’s is hier te koop. Verskeie geleenthede om met kunstenaars in dié area te kuier, word geskep.

Nóg ’n uitvoering perfek vir die hele gesin is Lig op die horison (Sondag 11 Augustus 13:00), waar Joshua na die Reën kragte saamspan met die Suid-Kaap Kinderkoor, onder leiding van Jan-Erik Swart. Hulle neem die gehoor op ’n onvergeetlike musikale reis in hulle program wat saamgestel is onder die tema “Die soeke na lig”.

Tussendeur die tien uitvoerings op die musiekprogram, kan feesgangers in die Banketsaal saam met kunstenaars kuier. Gewilde pianis Charl du Plessis, vanjaar se gasheer by Klein Karoo Klassique, tree in gesprek met kunstenaars na uitgesoekte uitvoerings en hierdie musiekgesprekke kan gratis bygewoon word.

Verder bied daaglikse Historiese wandeltoere en De Rustica Olyflandgoed se Olyf tot olyfie ook geleenthede om die skoonheid en vars lug van die Klein Karoo te ervaar. Die KKNK se multi-bekroonde Karoo Kaarte-span bied daagliks ’n rondleiding oor dié grensverskuiwende multidissiplinêre kunsteprogram wat sedert 2021 op Oudtshoorn lewe kry. Kunswerke uit hul nuutste uitstalling, Argief, wat in 2024 by die KKNK geopen het, word ingesluit, asook meer oor die Karoo Kaarte-app. Hierdie opwindende slimfoon-app is ’n interaktiewe argief van herinneringe uit mense se kinderdae en staaltjies oor verlore en openbare ruimtes van Oudtshoorn.

Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude en die Oudtshoorn Munisipaliteit.  

Dié winterfees se verblyfborge is Aloe Manor, De Zeekoe, Kleinplaas Holiday Resort, Protea Hotel Riempie Estate, Queen’s Hotel by BON Hotels, Ravenscliff Manor, Rosenhof Country House en Turnberry Boutique Hotel. Ander verblyfopsies is aanlyn beskikbaar by die fees se verblyfvennoot, LekkeSlaap. 

’n Beperkte aantal Klassique-pakkette is beskikbaar, wat aan feesgangers die geleentheid bied om al tien uitvoerings teen ’n besparing van 25% te sien. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets, Pick n Pay of die KKNK-kantoor. Beskikbare kaartjies word ook voor uitvoerings by die deur verkoop. Vir meer inligting, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.