Vele klavierhoogtepunte by Klein Karoo Klassique

Klavierhoogtepunte is volop by die 15de Klein Karoo Klassique, wat van 9 tot 11 Augustus op Oudtshoorn aangebied word.
Facebook
Twitter
LinkedIn

Klavierhoogtepunte is volop by die 15de Klein Karoo Klassique, wat van 9 tot 11 Augustus op Oudtshoorn aangebied word.

Dié winter fees van klassieke musiek, kuns, kos en wyn bring verskeie van Suid-Afrika se voorste pianiste byeen, vir uitvoerings met werke van beide plaaslike en internasionale komponiste. Feesgangers kan ook tussen uitvoerings by die immergewilde Steinway-pianis Charl du Plessis aansluit, wat na afloop van uitgesoekte uitvoerings met kunstenaars in gesprek tree.

Megan-Geoffrey Prins (klavier) en Berthine van Schoor (tjello) en neem Vrydag 9 Augustus 09:30 in Music from the Silk Road for Cello and Piano die gehoor op ’n eksotiese en verbeeldingryke reis deur verskeie lande van die antieke Sjinese syroete. Hulle program eindig met ’n lewendige en jazzagtige sonate deur die bekroonde Turkse pianis, Fazil Say, wat vir die eerste keer in Suid-Afrika uitgevoer word. ’n Gratis musiekgesprek met die kunstenaars volg.

Mareli Stolp (klavier) deel vir Ensemble Masana op 9 Augustus 13:00 die verhoog met Rikus Coetsee (saksofoon) en Handri Loots (fluit). Dié trio se lede is elkeen gesoute kamermusikante wat gereeld regoor Suid-Afrika en in die buiteland optree en bied ’n uiteenlopende program van musiek deur internasionale en Suid-Afrikaanse komponiste aan. Die wye verskeidenheid moontlikhede vir al drie instrumente in duo- en trio-formaat tentoonstel. Die uitvoering word gevolg deur ’n gratis musiekgesprek met die kunstenaars. 

Pianis Esthea Kruger is op 9 Augustus 19:00 saam met sopraan Magdalene Minnaar te sien in The Prayer. Hulle bied ’n nadenkende program van gebede uit die groter repertorium van kunsliedere aan. Hierdie uitsonderlike versameling sluit Ravel se “Kaddisch” en Schubert se “Ave Maria” in, asook werke van onder andere Bach, Fauré, Messiaen en Britten.

Kruger en Minnaar is ook daagliks saam met Rosamund Ender (tjello) te sien in ’n spesiale reeks optredes spesifiek gemik op jonger luisteraars in Little Maestro’s: Classical Concerts for Families, wat gratis in die Banketsaal aangebied word. Klassieke musiek is ’n briljante hulpmiddel in die ontwikkeling van kinders onder die ouderdom van sewe, wat breinontwikkeling en konsentrasie bevorder. Met hierdie konsert bied hulle ’n ontspanne omgewing waar klein oortjies leer deur Mozart, Bach en ander bekende klassieke musiek. Hierdie interaktiewe uitvoerings is saamgestel met kinders ingedagte en sluit hope interaksie en verduidelikings, asook deelname en beweging saam met die musiek in. Bekende werke soos Vivaldi se “Vier Seisoene” en Mozart se “Eine Kleine Nachmusik” word gespeel.   

In Sometimes it takes two Saterdag 10 Augustus 13:00 word die gehoor geneem van een pianis op die verhoog tot vier. Nina Schumann, Esthea Kruger, Megan-Geoffrey Prins en Charl du Plessis deel die verhoog vir ’n ongelooflike uitvoering deur vier van Suid-Afrika se voorste pianiste. Hulle laat 40 vingers op twee vleuelklaviere los met klassieke bemeestering. Vir hierdie spesiale klavierhoogtepunt speel hulle musiek van Mozart, Busoni, Rachmaninoff, Lutoslawski en Lavignac, gevolg deur ’n gratis musiekgesprek met die kunstenaars.   

Op 10 Augustus 16:30 skuif die musiek vir Triumph of Sound na NGK Park, vir ’n program wat oor eeue strek waarin Stefan Lombard die kragtige pyporrel, majestueuse klanke van Lynelle Kenned se sopraanstem en die glans van die trompet gespeel deur Paul Loeb van Zuilenburg verweef word. Dis ’n unieke reis deur die ryk tapisserie van klassieke musiek met ’n reeks emosies – van Bach, Vivaldi en Handel se triomfantlike en briljante Barok-komposisies, tot Mozart se genialiteit en die introspektiewe prag van Puccini. Die uitvoering word gevolg deur ’n gratis musiekgesprek.  

Die gewilde Joshua na die Reën (JNDR) skuif Sondag 11 Augustus 13:00 agter die klavier in vir Lig op die horison, saam met die Suid-Kaap Kinderkoor, onder leiding van Jan-Erik Swart. Dit is JNDR se eerste optrede by Klein Karoo Klassique en die eerste keer wat hy kragte met die koor saamspan. Dis ’n onvergeetlike musikale reis met musiek wat saamgestel is onder die tema van “Die soeke na lig”.

Sondagmiddag om 16:00 sluit die Charl du Plessis-trio en tjellis Peter Martens die musiekprogram af met Bach, Brahms & Bolling. Werke van die Franse jazz-pianis Claude Bolling word gehoor, asook Brahms se Tjello sonate in E-mineur in sy oorspronklike formaat en Bach se solo Suite vir cello no. 2 met ’n twist. Hierdie werk word getransformeer deur die trio met die toevoeging van ’n jazz-klanklandskap. Dit is ’n ware eklektiese vermenging van jazz en klassieke klanke in ’n nuwe crossover kombinasie vir die connoisseur van musiek.  

Die kern van Klein Karoo Klassique is die Oudtshoorn Burgersentrum en Banketsaal, waar feesgangers en kunstenaars gesellig kan kuier. Heerlike eetgoed word deur Nostalgie Restaurant hier bedien, terwyl wyn, koffie en ander lekkernye ook beskikbaar is. Boeke, klassieke musiek CD’s en DVD’s is hier te koop. 

Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude en die Oudtshoorn Munisipaliteit.  

Dié winterfees se verblyfborge is Aloe Manor, De Zeekoe, Kleinplaas Holiday Resort, Protea Hotel Riempie Estate, Queen’s Hotel by BON Hotels, Ravenscliff Manor, Rosenhof Country House en Turnberry Boutique Hotel. Ander verblyfopsies is aanlyn beskikbaar by die fees se verblyfvennoot, LekkeSlaap. 

’n Beperkte aantal Klassique-pakkette is beskikbaar, wat aan feesgangers die geleentheid bied om al tien uitvoerings teen ’n besparing van 25% te sien. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets, Pick n Pay of die KKNK-kantoor. Beskikbare kaartjies word ook voor uitvoerings by die deur verkoop.

Vir meer inligting, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.