“Almal word genooi om die 15de Klein Karoo Klassique hierdie naweek van Vrydag 9 tot Sondag 11 Augustus op Oudtshoorn te vier!”
“Dit is ongelooflik om te dink dat, wat begin het as ’n klein nis-fees, oor die jare so gegroei het en ’n instelling op die Suid-Afrikaanse musiekkalender geword het. Ons is baie opgewonde om dié mylpaaljaar saam met beide ons getroue én nuwe feesgangers te vier. Dit is nie net uitsonderlike musici en uitvoerings wat feesgangers gaan beleef nie, maar ook ’n heerlike geleentheid om te kuier in die pragtige Klein Karoo.”
Dit is die woorde van Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, aanbieder van Klein Karoo Klassique.
“Klassique is oor die afgelope 15 jaar gevestig as ’n voorste bestemming vir liefhebbers van klassieke musiek, wat die talente van gevestigde kunstenaars én opkomende talent insluit. Hierdie jaar se fees is geen uitsondering nie, met ’n diverse program van kamermusiek, opera, ’n koor en vele meer insluit.”
Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van kultuur by die ATKV, sê klassieke musiek is fundamenteel tot die ATKV se bestaan. “Dit verryk en inspireer ons, terwyl dit kreatiwiteit bevorder en gemeenskappe verenig.”
“Klein Karoo Klassique is ’n uitstekende geleentheid waar die ATKV en strategiese vennote klassieke musiek op ’n trots Suid-Afrikaanse manier kan vier. Ons hoop is dat ons ondersteuning die verskillende voordele wat klassieke musiek oor die algemeen inhou, sal beklemtoon.”
“Dié fees gaan oor veel meer as net klassieke musiek en bied aan feesgangers ’n unieke bymekaarkomplek in die Klein Karoo, met ’n onvergeetlike kultuurervaring wat ook die visuele kuns en kos- en wynervarings insluit,” sê Lemmer.
Saam met die propvol musiekprogram en gesprekke met kunstenaars wat aangebied word, word ’n area vir gesellig kuier in die Banketsaal geskep. Hier word daagliks ontbyt, middag- en aandete deur Nostalgie Restaurant bedien. Beans About Coffee se koffie uit die Klein Karoo is beskikbaar en Le Lude se MCC en wyne Alvi’s Drift se wyne kan hier geproe en geniet word. Handgemaakte sjokolade van La Chocolaterie Rococo is ook beskikbaar.
Riaan Marais, Keldermeester van Alvi’s Drift, bied wynproeë van hulle bekroonde wyne aan. Dié reeks sluit hulle Chenin Blanc, Sauvignon Blanc, Special Cuvee Red Blend en Pinotage uit hulle 221-reeks, asook drie witwyne en ’n rooiwyn van hulle Reserve-reeks in.
Boeke en klassieke musiek CD’s en DVD’s is in die area te koop. Die Oudtshoorn ReWOLusie is hier teenwoordig, waar feesgangers saam kan brei en hekel aan blokkies wat na die fees in komberse omskep word. Ander komberse wat deur dié Oudtshoorn-inisiatief gebrei en gehekel is, is beskikbaar vir feesgangers om die Burgersentrum tydens uitvoerings te verwarm. Komberse en koffietafelboeke oor die Oudtshoorn ReWOLusie is teen ’n donasie vir dié projek beskikbaar en skenkings vir wol is ook welkom.
Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude en die Oudtshoorn Munisipaliteit.
’n Beperkte aantal Klassique-pakkette is beskikbaar, wat aan feesgangers die geleentheid bied om al tien uitvoerings teen ’n besparing van 25% te sien. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets, Pick n Pay of die KKNK-kantoor. Beskikbare kaartjies word ook voor uitvoerings by die deur verkoop. Vir meer inligting, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.