Van ’n skoolkind wat vir die eerste keer ’n simfonieorkes hoor, tot ’n wêreldpremière van nuwe musiek, ’n terugkeer ná 13 jaar en ’n superster-koor wat die laaste note laat klink.
Musiekliefhebbers van Oudtshoorn en die omliggende streek, maar ook besoekers wat van elders gereis het, het van Vrydag 7 tot Sondag 9 Augustus bymekaargekom vir ’n program wat die bekende en geliefde met die nuwe en minder bekende gekombineer het. Die feesprogram het buite die konsertsaal gestrek, met gratis musiek- en boekgesprekke, ontbytkonserte, visuele kuns, kos en wyn wat alles deel van dié feeservaring gevorm het.
“Die 17de Klein Karoo Klassique was ’n uitsonderlike ervaring met uitstaande uitvoerings, gesprekke en ’n wonderlike atmosfeer. Dit was ’n rekordjaar in vele opsigte – nie net het die fees se bywoning ons verwagtinge oortref nie, geleenthede is ook geskep om jong leerders aan klassieke musiek bloot te stel en ’n sessie vir koorleiers uit die streek is aangebied,” sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van Klein Karoo Klassique.
Klassieke musiek vir ’n volgende generasie
Een van die belangrikste oomblikke van die naweek het reeds Vrydagoggend gekom, toe leerders van skole uit die streek die Burgersentrum vir Inleiding tot die orkes gevul het.
Richard Cock en lede van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) het leerders van graad 4 tot 9 op ’n interaktiewe reis deur die orkes geneem – van strykers tot koperblasers, met demonstrasies, bekende musiekvoorbeelde en gehoordeelname. Die entoesiasme was aansteeklik. ’n Jong Oudtshoorn-leerder, Marco Huyzeras, het selfs die geleentheid gekry om op die podium te klim en self die orkes te dirigeer.
Sulke oomblikke onderstreep ’n belangrike deel van die waarde van ’n fees soos Klassique: Dit wys kuns is nie net gemaak vir groot stedelike sentrums nie, en skep terselfdertyd geleenthede vir jong mense om dit eerstehands te ervaar. Vir sommige leerders was dit ’n eerste ontmoeting met die klank van ’n simfonieorkes.
Die KFO keer terug
Die teenwoordigheid van die KFO was vanjaar besonder betekenisvol: Dit was die eerste keer in 13 jaar dat die orkes weer in die streek optree.
Honderde feesgangers het Vrydagaand die Klein Karoo-koue trotseer en die Burgersentrum vir die uitverkoopte Klassique Galakonsert gevul. Onder leiding van Cock het die orkes werke van Mozart en Mendelssohn uitgevoer, met François du Toit as solis in Mozart se Klavierkonsert nr. 24 in C-mineur. Die program is afgesluit met Mendelssohn se geliefde “Italiaanse” Simfonie.
Adriaan Fuchs, hoof van die KFO, sê die terugkeer was vir die orkes net so besonders. “Dit was vir die KFO ongelooflik spesiaal om ná 13 jaar weer in die streek te wees. Om terug te keer na Oudtshoorn en musiek met dié gemeenskap te deel, is vir ons ’n groot voorreg en vreugde.
“Feeste soos hierdie herinner ons aan die krag van musiek en die kunste om mense bymekaar te bring. As orkes bly dit vir ons ’n kerndeel van ons missie om die heel beste klassieke musiek na gemeenskappe regoor die Wes-Kaap te neem – en ons hoop om volgende jaar weer na Oudtshoorn en sy mense terug te keer.”



Van geliefde meesterwerke tot musiek wat gehoor móét word
Klassique se krag lê egter nie net in die bekende repertoire nie. Die fees het oor die naweek ’n buitengewone verskeidenheid kamermusiek aangebied – van Postcards en Trio Contraire tot die Take Four Piano Quartet, Heimwee, Spanish Songs, Unheard (of) en Cellissimo.
In Vrouemaand het Unheard (of), met pianis Mareli Stolp en tjellis Mietze Dill, juis die kollig laat val op vrouekomponiste wie se musiek histories gemarginaliseer is. Werke van onder andere Ethel Smyth, Amy Beach, Rebecca Clarke, Rita Strohl en Mélanie Bonis het ’n alternatiewe blik op die klassieke kanon gebied.
Vir die musikoloog en musiekresensent dr. Wayne Muller was dié konsert ’n feeshoogtepunt. “Klein Karoo Klassique is ’n lieflike spasie waar die oorbekende en nuwe saam die verhoog deel. Vanjaar was dit weer van Mozart tot werke van ’n reeks vrouekomponiste wie se musiek weinig uitgevoer word. Juis daardie konsert, Unheard (of), was my gunsteling.
“Klassique is een van die min spasies waar met nuwe en mindergehoorde klassieke musiek ‘geëksperimenteer’ kan word. Ons het meer sulke spasies in Suid-Afrika nodig waar gehore so ontvanklik is vir die minder- en ongehoorde.”
Die fees het dié gees van ontdekking verder gevoer met Cellissimo, waarin agt tjelliste die merkwaardige veelsydigheid van die instrument ten toon gestel het. Die program het gestrek van Rossini, Wagner en Villa-Lobos tot Vangelis, met sopraan Siphamandla Moyake, en het ook ’n besonderse gebeurtenis vir die Klein Karoo ingesluit: die wêreldpremière van die Suid-Afrikaanse komponis Shane Woodborne se “Ababuyanga”.
Ander hoogtepunte het die Take Four Piano Quartet se uitvoering van werke deur Brahms en Schumann ingesluit, asook Heimwee, ’n roerende huldeblyk aan die lewe, loopbaan en nalatenskap van die gevierde Suid-Afrikaanse sopraan Mimi Coertse. Dié program het Afrikaanse kunsliedere, opera en operette saamgebring om die omvang van Coertse se kunstenaarskap en kulturele invloed te vier.
Vir Charl du Plessis, wat as seremoniemeester opgetree het, die musiekgesprekke met kunstenaars gelei het en self tydens die fees opgetree het, is daardie gedeelde ervaring die kern van Klassique.
“Klassique is die samekoms van mense wat klassieke musiek liefhet en dit saam wil geniet. Die krag van hierdie taal bind ons en is tasbaar op die verhoog en tussen die gehoorlede. Dis my voorreg om deel hiervan te kan wees.”
Veel meer as die musiek op die verhoog
Daardie gevoel van gemeenskap het deur die hele fees geloop. Tussen uitvoerings het feesgangers aan die lang tafels in die Banketsaal saamgekuier, kunstenaars ontmoet, na gesprekke geluister en oor koffie, kos en wyn verder oor die musiek gesels. Die Banketsaal is juis as die sosiale hart van die fees ingerig, met gratis ontbytkonserte (deur die plaaslike pianis John Theodore en ook Du Plessis self) musiek- en literêre gesprekke en ’n visuele kunsuitstalling, onder kuratorskap van René Scribante met kunswerke deur 30 kunstenaars uit die streek.
Elna van der Merwe, gespreksleier vir vanjaar se boekgesprekke, aangebied met die ondersteuning van Human & Rousseau en Kwela, sonder veral Antjie Krog se gesprek oor haar vertaling van Olive Schreiner se From Man tot Man uit.
“Toe Antjie Krog gesels oor haar vertaling van Olive Schreiner se roman na Van man tot man, voel ek die meelewing. Die gehoor se gesigte lyk asof sy hulle wegvat uit hul daaglikse bestaan na ’n beter plek, veral toe sy eindig deur onverwags ’n gedig op te sê uit Spienekelientjies, ’n nuwe verseboek vir kinders wat sy saamgestel het. Ons was bevoorreg om na haar te luister.” Ander skrywers op die feesprogram was Bonnie Espie (Lifting the Lid) en Irna van Zyl (Kanniedood).
Dit is dalk juis hier waar die waarde van Klassique die duidelikste word. Dit is nie bloot ’n reeks uitvoerings wat toevallig op Oudtshoorn aangebied word nie. Vir ’n naweek word ’n dorp in die Klein Karoo ’n ontmoetingsplek vir kunstenaars en gehore, vir die bekende en die onbekende, vir gesprekke en ontdekking, en vir mense van binne én buite die streek wat doelbewus hierheen reis om dit saam te beleef.
’n Wêreldklas-slot
Die laaste woord – of eerder die laaste noot – het aan die Universiteitskoor Stellenbosch behoort.
Onder leiding van André van der Merwe het die wêreldbekende koor sy 90ste bestaansjaar by Klassique gevier. Die koor, wat in 2025 drie goue medaljes by die Europese Koorspele en Grand Prix of Nations in Aarhus in Denemarke verower het, het die fees met die presisie, energie en musikaliteit waarvoor hulle internasionaal bekend is, afgesluit.
Dit was ’n gepaste einde vir ’n naweek waarin die Klein Karoo gewys het dat wêreldklas klassieke musiek nie net in die konsertsale van groot stede hoort nie. Dit hoort ook hier, tussen die berge en die koue Augustus-aande van Oudtshoorn.
Volgende jaar vind dié fees van klassieke musiek, literatuur, kuns, kos en wyn van Vrydag 6 tot Sondag 8 Augustus 2027 vir die 18de keer op Oudtshoorn plaas. Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude, RSG, Oudtshoorn Courant en die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Dié winterfees se verblyfborge is Argyll B&B, Beit Shalom, Cul de Sac, De Zeekoe, El Dorado Hotel & Self Catering, Kleinplaas Holiday Resort, Miles B&B Guesthouse, Oudtshoorn Inn, Pictures Boutique Hotel, Protea Hotel Riempie Estate, Queen’s Hotel, Ravenscliff Manor, Rosenhof Country House en Thylitshia Villa.
Vir meer inligting besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Foto’s: ’n Reeks hoogtepunte op die verhoog by vanjaar se Klein Karoo Klassique. © Hans van der Veen