Musiekliefhebbers word oor die Vrouedaglangnaweek van Vrydag 7 tot Sondag 9 Augustus in die Klein Karoo getrakteer met musiek wat die stemme, stories en nalatenskap van uitsonderlike vroue vier – van ikoniese kunstenaars uit eie bodem, tot baanbrekende komponiste wie se musiek vir dekades nie gehoor is nie.
Een van Klein Karoo Klassique se hoogtepunte is Heimwee (Saterdag 8 Augustus 19:00), ’n roerende huldeblyk aan die besonderse nalatenskap van Mimi Coertse, wat die stem, kunstenaarskap en kulturele invloed van een van Suid-Afrika se mees geliefde soprane vier. Op die verhoog is Kaapstad Opera se Brittany Smith (sopraan), Sisikelelwe Mngenela (sopraan) en Thandolwethu Longo (tenoor), begelei deur José Dias op klavier. Die program is saamgestel deur Charl du Plessis, wat ook as gasheer optree. Heimwee bring ’n fyn saamgestelde keur van ikoniese werke uit Coertse se repertoire byeen – geliefde liedere en arias wat gehore die meeste met haar glansryke loopbaan vereenselwig, soos vasgevang in haar opnames en die herinneringe van die publiek.
Coertse is ’n gevierde Suid-Afrikaanse sopraan wie se besonderse internasionale loopbaan gekenmerk is deur haar lang verbintenis met die Weense Staatsopera, waar sy tot een van die geselskap se voorste kunstenaars ontwikkel het en met die gesogte titel van Kammersängerin vereer is. Sy was bekend vir haar liriese stem en verfynde artistieke meesterskap en het ’n belangrike bydrae daartoe gelewer om Suid-Afrikaanse opera internasionale erkenning te laat geniet. Sy het as mentor vir nuwe geslagte sangers opgetree en was ’n beskermpersoon van Klein Karoo Klassique, wat haar blywende invloed op die Suid-Afrikaanse musieklewe verder bevestig. Coertse is op 27 April vanjaar oorlede.
Nog ’n besonderse uitvoering is Unheard (of) (Sondag 9 Augustus 10:00), waarin tjellis Mietze Dill en pianis Mareli Stolp die kollig plaas op werke deur vrouekomponiste wat vir dekades gemarginaliseer en as onwaardig vir die klassieke kanon beskou is. Dit is beide ’n viering en ’n wonderlike ontdekkingsreis van musiek, waar Britse komponis en suffrajet Dame Ethel Smyth se ongeëwenaarde Tjellosonate in A mineur, Op. 5 die kern van die program vorm. Dit is ’n werk van verstommende krag en diepgang wat veel beter bekendheid verdien.
Pieces for Cello and Piano deur Amerikaanse komponis Amy Beach, Impetuoso uit die sonate van Rebecca Clarke, die asemrowende Solitude (Rêverie) deur Franse komponis Rita Strohl, en die elegante Sérénade, Op. 46, No. 1 deur haar landgenoot Mélanie Bonis word ook ingesluit. Saam vertel hierdie komponiste ’n parallelle geskiedenis van klassieke musiek – een wat uiteindelik, en tereg, gehoor word. ’n Gratis musiekgesprek, onder leiding van Du Plessis, word na afloop van die uitvoering aangebied, wat verdere insig tot die musiek aan die gehoor bied.



Zanta Hofmeyr (viool), Jeanne-Louise Moolman (altviool), Susan Mouton (tjello) en Elna van der Merwe (klavier), oftewel Take Four Piano Quartet (Saterdag 8 Augustus 14:00), kom in Augustus byeen om Vrouemaand te vier. Hulle is jarelange vriendinne en virtuose musici wat die gehoor op ’n verhewe reis deur van die mees geliefde werke in die kamermusiekrepertorium neem.
Hulle program sluit in Brahms se Klavierkwartet nr. 2 in A majeur, Op. 26 – ’n werk vol verreikende lirisme, hartlikheid en lewenskragtigheid, asook Schumann se Klavierkwartet in E-mol majeur, Op. 47, bekend vir sy poëtiese skoonheid en warm interaksie tussen die instrumente. Hierdie aangrypende uitvoering is ’n viering van kunstigheid, vriendskap, verbondenheid en die blywende krag van kamermusiek. Die uitvoering word ook gevolg deur ’n gratis musiekgesprek met die kunstenaars, onder leiding van Du Plessis.
Vyf ander uitvoerings van klassieke musiek, twee laataandkonsert en twee ontbytkonserte vorm ook deel van Klein Karoo Klassique se musiekprogram. Kaartjies is aanlyn beskikbaar by klassique.co.za, by die KKNK-kantoor of by die deur voor vertonings, afhangend van beskikbaarheid.
Klein Karoo Klassique word aangebied deur die KKNK, moontlik gemaak deur die Rupert-Musiekstigting en die ATKV, met ondersteuning van Le Lude, RSG, Oudtshoorn Courant en die Oudtshoorn Munisipaliteit.
Dié winterfees se verblyfborge is Argyll B&B, Beit Shalom, Cul de Sac, De Zeekoe, El Dorado Hotel & Self Catering, Kleinplaas Holiday Resort, Miles B&B Guesthouse, Oudtshoorn Inn, Pictures Boutique Hotel, Protea Hotel Riempie Estate, Queen’s Hotel, Ravenscliff Manor, Rosenhof Country House en Thylitshia Villa.
Vir meer inligting, die volledige feesprogram en kaartjies, besoek klassique.co.za of kontak die KKNK-kantoor per e-pos by info@kunste.org.za, skakel 044 203 8600 of stuur ’n WhatsApp na 065 285 2337.
Foto’s aangeheg: Vrouemaand word op die verhoog by Klein Karoo Klassique gevier met Heimwee, ’n huldeblyk aan Mimi Coertse, Unheard (of) en die Take Four Piano Quartet.