UITVERKOOP
MET Nonhlanhla Yende (mezzosopraan), Charl du Plessis (klavier), Werner Spies (kontrabas), Peter Auret (tromme) en die Kaapstadse Feesorkes, onder leiding van Richard Cock
Maestro Richard Cock en die Kaapstadse Feesorkes is terug op die verhoog by Klein Karoo Klassique, saam met die immergewilde Charl du Plessis Trio en opkomende operaster Nonhlanhla Yende. Die program vir die Klein Karoo Klassique Galakonsert bevat die Maanligsonate van Beethoven in ’n splinternuwe verwerking vir orkes, asook opera-arias deur Mozart en musiek van Vivaldi, Bach en Beethoven. Charl du Plessis se kenmerkende verwerkings voeg ’n tikkie swing by ’n keur van geliefde klassieke werke, en onder die leiding van Richard Cock gaan die kwaliteit en standaard van die musikale ervaring nuwe hoogtes bereik. Nonhlanhla Yende tree vir die eerste keer by Klein Karoo Klassique op en is een van ’n nuwe generasie briljante sangers wat tans opslae in die Suid-Afrikaanse musieklandskap maak. Sy sing van die gewildste arias uit die operarepertorium om dié onvergeetlike konsert af te sluit.