Word deel van die Oudtshoorn ReWOLusie by Klein Karoo Klassique!

’n ReWOLusie wat deur hekelwerk ’n gemeenskap aanmekaarbind. Só word die Oudtshoorn ReWOLusie beskryf. ’n Gemeenskapsprojek wat sedert die KKNK in 2019 in verskeie vorme ’n reuse-impak op gemeenskappe regoor die Suid-Kaap maak. 

Met meer as 80 deelnemers, verfraai hulle vlytige vingers nie net jaarliks dele van Klein Karoo Klassique, die KKNK en ander projekte nie, hulle maak ook ’n ruim en warm verskil in die harte van talle behoeftiges in die gemeenskap. 

Hoe om deel te word van die ReWOLusie

Komberse vir die gemeenskap

Bring jou eie brei- of hekelwerk saam na die Banketsaal tydens die fees. Hier kan jy kreatief wees én bydra tot iets groters: elke blokkie wat tydens die fees gebrei of gehekel word, vorm deel van ’n groter projek om komberse vir die gemeenskap te skep. 

Bly warm

Hierdie handgemaakte komberse word nie net ná die tyd saamgestel nie – sommige is reeds beskikbaar om feesgangers tydens uitvoerings in die Burgersentrum warm te hou. 

Maak ’n donasie

Steun hierdie plaaslike inisiatief deur ’n donasie te maak in ruil vir ’n kombers of koffietafelboek oor die Oudtshoorn ReWOLusie. 

Skenk wol

Of skenk ’n bol wol en help ons om die draad van omgee voort te spin.

Vir meer inligting, kontak Daleen Witbooi: