Die Wynmeester: Kom proe saam

7 Augustus 17:00

8 Augustus 16:30

9 Augustus 16:30

MET Andrew Mellish, Arno Smith, Riaan Marais en Danie van der Merwe

Soveel stories is versteek in ’n bottel wyn. Danie van der Merwe, aanbieder van die gewilde VIA-reeks Die Wynmeester, kuier vir die eerste keer saam met drie talentvolle wynmakers by Klein Karoo Klassique. Die wynmakers vertel meer oor die kuns van wynmaak, die uitdagings in die bedryf en deel ’n paar staaltjies. Kom proe saam terwyl die wynmakers hul wyne saam met ’n heerlike bypassende happie aanbied.

Riaan Marais is die welbekende Keldermeester en wynmaker by Alvi’s Drift, ’n bekroonde familie-wynlandgoed langs die Breederivier in die Worcester-streek. Hy is veral bekend vir sy passie vir innoverende besproeiingsysteme in wingerd tot verfynde versnittegnieke en die herlewing van sementtenk-fermentasie. Hy bring ’n kunstenaars-aanslag na alles van die landgoed se vars, toeganklike alledaagse style tot sy multi-bekroonde Reserwe-reeks en vlagskip Verreaux Pinotage. Sy wynmaakfilosofie word grootliks gevorm deur Alvi’s Drift se leuse: “Taste What’s Possible”, wat hom dryf om voortdurend ’n balans te vind tussen die nuutste kelder-innovasie en die diep respek vir die natuurlike eienskappe van elke oesjaar. Lees meer by alvisdrift.co.za

Andrew Mellish is ’n onafhanklike boetiek-wynprodusent wat terroirgedrewe wyne maak van wingerde op die familieplaas, Welbeloond. Hy streef daarna om wyne te bottel wat verfrissend gebalanseerd is, met ’n kompleksiteit en diepte van geur wat uitdrukking gee aan die eeue-oue, klipperige skaliegrond en die Mediterreense, kusagtige klimaat van hulle wingerde. Die wingerde is 20 km noord van Kaapstad geleë, in die heuwels van Durbanville, nege kilometer oos van Tafelbaai en die Atlantiese Oseaan. Lees meer by mellishvineyards.com

In 2010 het Arno Smith sy eerste internskap by Darling-wynkelder voltooi, waarna hy aangestel is as assistent-wynmaker by Hillcrest Estate in die Durbanville-wynvallei en dis ook hier waar hy later die plaasbestuurder en wynmaker geword het. Ná tien wonderlike jare het hy sy passie uitgeleef: om druiwe te verbou en wyn te maak. Om iets unieks te kan skep en dan te ervaar hoe mense dit geniet, moet seker een van die mees bevredigende dinge wees wat ’n mens kan beleef. In 2021 het Arno besluit om onafhanklik te gaan en het hy die Arno Smith Wine Company gestig waar hy steeds alles wat hy die afgelope dekade geleer het, tot sy voordeel kan gebruik om sy eie topgehalte-wyne te produseer. Lees meer by arnosmithwine.co.za

Het jy al gekyk na:
Begin jou feesdag op ’n rustige noot met hierdie Ontbytkonsert, ’n gratis oggendkonsert wat uitstaande klaviermusiek met die gesellige atmosfeer van die Banketsaal kombineer.

8 Augustus 08:00

Vertrek saam met RJ Tours op ’n historiese wandeltoer en reis terug in tyd na vyf van Oudtshoorn se unieke kerke en ander sandsteen-juwele.

7 Augustus 08:00

8 Augustus 08:00

Koorleiers van die Klein Karoo en Tuinroete word uitgenooi na ’n inspirerende werksessie met een van Suid-Afrika se voorste koorleiers, André van der Merwe.

10 Augustus 08:30